2007-07-01

Pylpunt en Pallo Jordan

Enkele weke gelede het 'n Internetsoektog my toevallig attent gemaak op die bestaan van 'n plek met die naam Pylpunt. Die soektog het verband gehou met iets in die omgewing en ek het vir die snaaksigheid na http://maps.google.com/ gegaan en die naam Pylpunt ingetik. Siedaar - dis 'n plek of kruising langs die N1, net noord van Pretoria, so 15km van waar ek woon. Waarom vind ek dit snaaks? Omdat ek skielik besef het hoe belaglik die politici van SA is indien hulle dink dat dit 'n magtige daad is om oorspronklik Afrikaanse dorpe herdoop na vlou moutbiere of vermeende Ndebele-opperhoofde. Amper al wat vir my eintlik saakmaak is of die plek se naam in die Google-databasis is. Die tyd toe dit primêr saakgemaak het hoe iets in 'n stowwerige lêer in Pretoria aangeteken is, is lankal verby. In die terminologie van Thomas Friedman, is ons politiese opperhoofde nog in die sfeer van die olyfboom (kleinlike stryd oor plaaslike kwessies) waar ek en Google in die sfeer van die Lexus (globale uitnemendheid en samewerking) is. Die Internet het veroorsaak dat Google en soortgelykes die databasis beheer en versprei en nie kleinlike burokrate nie. Wat 'n bevryding! En, sal die leser vra, indien 'n mens die voorgestelde nuwe naam vir die Jakarandastad (Snor City, Mor City) intik? Wel, dan wys GoogleMaps 'n gehuggie by Ghanzi, in Botswana.

4 opmerkings:

Petrus het gesê...

Ek het toevallig verlede week by 'n sosiale geleentheid met Pallo Jordan gesels en hy is 'n baie hoflike en aangename persoon. Hy is ook nie skaam om Afrikaans te praat op 'n deftige partytjie nie - iets wat ek ongelukkig van sommige Afrikaanse kollegas nie kan sê nie...

Anoniem het gesê...

Dis nogal 'n besonder interessante opmerking. Veral in die lig van 'n hele paar berigte wat hom as 'n voorbok van Anti-Afrikaner sentimente laat lyk. Byvoorbeeld Hanlie Retief se onderhoud met hom

Petrus het gesê...

Ongelukkig sit Pallo Jordan in 'n ministerie wat - volgens my - kwalik 'n bestaansreg het. Dit is tog snaaks hoe ons bevrydigskaders "klein stukkies" Europa in die vorm van Duitse motors najaag maar ons, die Afrikane van Europese afkoms of kultuur, nie die gehug Stutterheim se naam gun nie.

Anoniem het gesê...

Ja wel, ek het in die 80s ook lang stukke met Pallo Jordan gesels. Hoflik en sjarmant. Maar hoe koud is die windjie...
En sal ons tog eendag leer om nie oor ons voete te val van dankbaarheid as iemand afrikaans praat nie! Dit word ook maar graag as 'n ontwapeningswapen gebruik.