2008-03-14

Eskom-rantsoenering beloon hoë kragverbruik

Eskom het aangekondig dat kwotas ingestel sal word vanaf 1 Julie 2008 vir huishoudelike en industriële gebruik van elektrisiteit. Dít sal behels dat straftariewe betaal moet word vir verbruik wat hoër is as 90% van die gemiddelde verbruik oor 'n tydperk in die verlede, aangekondig as Oktober 2006 tot September 2007. Dit klink pragtig en deugdelik, amper soos 'n oefen- of verslankingsprogram. Maar, sê maar, jy en jou familie was van Oktober 2006 tot September 2007 in Doebai en die bure het na julle huis gekyk. Intussen het julle teruggekeer en die werklose neef en familie van Randfontein (die myn het gesluit weens die kragtekort) het in Januarie by julle ingetrek. Daar woon dus nou 9 mense in die huis, in vergelyking met geen in die verwysingstydperk. Julle moet egter 10% minder krag gebruik, in dié geval 10% minder as omtrent niks. Daar is nie 'n prosedure vir die Randfonteiners om hulle kwota (in dié huis woon nou plakkers) oor te dra na jou paleis in Swartkops nie.

Dié voorbeeld wys uit wat die probleem is met die kwota-stelsel: mense wat in die verwysingstydperk baie elektrisiteit gebruik het word beloon deurdat die vorige hoë gebruik as gebruiksreg aan hulle toegestaan word onderwyl mense wat min gebruik het belas word met 'n verdere besparing. Dié wat voorheen die verwarmer die hele winter aan gelos het, sal dit baie maklik vind om aan die kwotas te voldoen. Wat staan die verstandige gebruiker nou te doen? Moet net nie meer as die verpligte hoeveelheid elektrisiteit spaar nie, want anders gaan jy met die instel van die volgende - nog strenger - kwotas regtig bars.

Die instel van 'n kwota kom neer op die skep van 'n bate. Dit gee jou die reg tot gebruik van 'n hulpbron, teen 'n vasgestelde tarief. Jy "besit" dus nou iets wat jy voorheen nie gehad het nie. In die geval van die Eskom-kwota kom dít neer op 'n massiewe oordrag van hulpbronne na die "bevoorregtes" (teen wie ek, anders as Alec Erwin, niks het nie), of 'n ondergroep van "bevoorregtes". Ek wonder, terloops, wat Eskom gaan maak met nuwe huise en besighede?

Opsomming: Die kwota-stelsel vir elektrisiteit "straf" wel die sameleweing vir hoë kragverbruik, maar dit beloon hoë gebruik (in die verlede) deur die individu. 'n Redelik persoon sal uit dié ervaring die verwagting ontwikkel dat verder kwotas toegepas gaan word en dat hoë verbruik vandag (môre se verlede) weer beloon sal word.

Lees- en kykstof:
  1. SA enters power rationing phase : http://www.moneyweb.co.za/mw/view/mw/en/page62093?oid=199024&sn=Detail
  2. Eskom insists on 10% cut for homes, offices : http://www.businessday.co.za/articles/topstories.aspx?ID=BD4A727143
  3. Kragrantsoenering 'n resep vir chaos (brief van ene Gerhard op LitNet) : http://tinyurl.com/27eo6q
  4. Carte Blanche oor die Eskom-krisis (met klem op die steenkoolreserwes) : http://www.youtube.com/watch?v=QWCFExYQ2NA
  5. Skielik is die liggies af (deur Leon Schuster - nog iets waarvoor ons Eskom kan blameer) : http://www.youtube.com/watch?v=_tejC5jd244

2008-03-12

Verkeersfoto's in Duitsland - stoor van nommerplaatinligting verbode

Die Duitse grondwethof in Karlsruhe het beslis dat die polisie in twee Duitse deelstate nie verder sondermeer die nommerplate van verbygaand motors mag afneem en stoor nie. Die uitspraak is ook van toepassing op ander Duitse deelstate waar dié tipe bewaking toegepas word. Dit is vanselfsprekend kommerwekkend indien die owerhede basies 'n rekord opbou van mense, of hulle motors, se bewegings.


In watter mate het 'n mens die reg om anoniem op die pad te wees? Die kamera hier bo wys 'n kruising in die Amerikaanse stad Seattle en word elke minuut of so opdateer. Hoewel die resolusie nie heeltemal goed genoeg is om nommerplate af te lees nie, hoe lank voor sulke verkeersfoto's deur nie-regeringsgroepe verwerk word om 'n databasis op te bou van mense se bewegings?

Hier onder is Johannesburg se spaghetti-wisselaar vir die N1/N3/M1.

http://www.vodacom4me.co.za/vodacom4me-personal-resources/infocam/Cam@10.113.41.10_352x288.jpg

Verwysings:
http://www.nrc.nl/buitenland/article971088.ece/Duits_Hof_legt_scan_kenteken_aan_banden
http://www.focus.de/politik/deutschland/videoueberwachung_aid_264787.html