2013-10-15

Meer privaatheid met twee webblaaiers

Ek is vroegaand dié week by 'n vriend se huis toe my Google-selfoon my daaraan herinner dat ek so vier minute nodig het om by my volgende afspraak uit te kom. Hoe weet Google, Facebook en ander so baie van ons en wil ons iets daaraan doen? Oor die selfoon kan ek nie veel sê nie maar ek glo dis daar 'n hopelose saak, soos Richard Stallman onlangs in 'n lesing by Wits verduidelik het. Op 'n gewone rekenaar het 'n mens egter 'n bietjie meer hoop. Die beste is om TOR te gebruik vir Internet-toegang maar in my ervaring is dit dikwels maar stadig.

'n Baie eenvoudiger manier om jouself 'n bietjie minder te laat naspoor is om eenvoudig twee verskillende webblaaiers (byvoorbeeld twee van Google Chrome, Opera, Firefox, Safari of Internet Explorer) te gebruik. Op die één, sê maar Google Chrome, gebruik 'n mens alles waarvoor jy moet aanteken, byvoorbeeld jou GMail en Facebook. Moet dan geen ander webbladsye in Google Chrome oopmaak nie! Wanneer jy dit sou doen, kan GMail en Facebook baie inligting oor jou bekom en die webbladsy wat jy besoek kan ook. Gebruik eerder byvoorbeeld Opera om ander webbladsye in oop te maak, insluitend jou bank. Jy sal sien dat daar dan geen +'e van Google of Facebook-boodskappe wat jou vertel wat jou vriende van hou meer in Opera gaan verskyn nie. Hierdie werk omdat webbladsye wat jy in Google Chrome oop het slegs inligting van en oor ander webbladsye in Google Chrome kan kry of uitruil maar nie daarbuite nie. Alles wat jy dan in Opera doen hoort dus nie direk deur Facebook of Google aan jou gekoppel te kan word nie.