2006-11-21

OKOSA (ICASA) trap RadioX

Die Onafhanklike Kommunikasie-Owerheid van Suid-Afrika (ICASA), wat so besig is dat hulle in 2002 laas 'n permanente uitsaailisensie toegestaan het, het toegeslaan op RadioX - 'n laedrywing FM-sender in die noorde van Johannesburg en al RadioX se toerusting gekonfiskeer, aldus MyADSL. In 2005 het OKOSA ook Klub Radio 100, 'n radiosender op Orania (kan die spektrum dáár regtig oorbelas wees?), gesluit. Myns insiens gaan dit hier oor vryheid van spraak. Die aansoekproses vir 'n uitsaailisensie is ondeursigtig, omslagtig en duur. Toe ek vanoggend die webwerf van OKOSA besoek, en kyk onder broadcasting... licensing... community - toe kry ek niks anders as die boodskap "There are no documents loaded in this section, please check again later" nie. Tensy 'n mens die regering (oeps... SAUK) is of 'n SEB-maatskappy met diep sakke, kry 'n mens oënskynlik nie 'n lisensie nie. Die Grondwet van Suid-Afrika se Artikel 192 bepaal dat
’n Onafhanklike owerheid moet deur nasionale wetgewing ingestel word om die uitsaaiwese in die openbare belang te reguleer en om toe te sien dat regverdigheid geskied en ’n verskeidenheid van sienswyses aangebied word wat in die breë verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse samelewing is.

en hierdie bepalings word herhaal en beklemtoon in die wetgewing wat OKOSA tot stand gebring het. Hoe OKOSA se toepassings daarmee strook, weet nugter alleen.

Geen opmerkings nie: