2009-01-17

Kaarte vir Suid-Afrika

Die kaartdienste van Google en Yahoo, met hul lieflike satellietfoto's van die aarde, is natuurlik 'n plesier om te gebruik. Veral indien 'n mens in die buiteland is waar baie stede - waaronder selfs die sekondêre stede van Australië en Nieu-Seeland - nou straatvlak-beelde het. Kyk byvoorbeeld na die beeld hier onder van Madrasstraat in Christchurch. Hierdie beeld is dinamies gekoppel aan die Google-webwerf en mag later nie meer beskikbaar wees nie.



Die kaarte van Suid-Afrika is ongelukkig pateties. Nie eers die belangrikste strate is almal aangebring nie en hoewel ek dit geniet om, veral in Pretoria, na die satellietbeelde in hoë resolusie te kyk, is dit nie van baie nut in stede wat ek minder goed ken, nie. Die volgende beeld wys hoe Google se kaart van Kaapstad se middestad teenswoordig lyk.



Dít is nie van baie hulp indien 'n mens herinner wil word aan die presiese ligging van Kerkstraat, waar die teikenrestaurant van die aand is, nie. Nou, ek is bewus dat daar webwerwe is met beter kaarte van SA en ek het hulle al gebruik maar hulle name is vir my moeilik om te onthou. Gelukkig kom ek toe vanmiddag af, deur 'n websoektoeg, op die uitstekende maps.yellowpages.co.za wat nog 'n lieflike bykomende diens bied vir Suid-Afrikaanse gebruikers: hulle stuur 'n skakel per SMS na 'n mens se selfoon sodat jy op pad weer die kaart kan oproep deur middel van die selfoon se Internet-verbinding. Die kaarte van die Geelbladsye word verskaf deur AfriGIS. Met die detailkaart hier onder, weergegee sonder toestemming en met dien verstande dat dít op regmatige redelike gebruik neerkom, gaan dit baie maklik wees op die plek te vind!



Die vier straatblokke op die kaart van die Geelbladsye stem ooreen met vier blokke sigbaar op die kaart van Google.

Geen opmerkings nie: