2010-01-09

Minus nul vir Omaha, sê Wikipedia

Die klimaatstatistieke op Wikipedia bly vir my lekker vermaak. Ek het só byvoorbeeld geleer dat Bogotá (die Afrikaanse inskrywing is tans net 'n dop) baie lekkerder moet wees as wat 'n mens eintlik sou dink. Soos dit nou maar gaan, beland ek nou-die-aand op die inskrywing vir Omaha, vermoedelik via The Onion, waar 'n gruwelike omskakelingsfout op die oog val.

In die bronkode word die temperature in grade Fahrenheit gegee, en Wikipedia gebruik duidelik twee of drie lyne kode om dit na Celsius om te skakel. Dié algoritme toets blykbaar eers of die oorsponklike temperatuur in Celsius negatief gaan wees al dan nie, bepaal die teken van die antwoord, en skakel dan die heelgetalgedeelte om. Aangesien negatiewe temperature in Fahrenheit min voorkom, gaan dié probleem vir omskakeling van Celsius na Fahrenheit nie veel voorkom nie. Die korrekte benadering is natuurlik om die Fahrenheit-temperatuur eers na 'n afgeronde Celsius-waarde om te skakel en dan die teken van die heelgetalgedeelte te skei. Wiskundig gestel, die funksie sgn(x) wat die waarde -1; 0 of 1 aanneem, kommuteer nie met die funksie round(x) wat x afrond tot die naaste heelgetal, nie.

Geen opmerkings nie: