2009-09-20

Parlement praat oor seltariewe

Ismail Vadi, PPKK-voorsitterDie parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie (PPKK) het verlede week vergader oor Suid-Afrika se skokkend hoë interkonneksietariewe, die gelde wat betaal word deur telefonieverskaffers aan ander netwerke vir die terminering van 'n oproep op die netwerk waaraan die geskakelde nommer behoort. In spitstyd is dié tarief R1,25 vir die selfoonnetwerke, m.a.w. die netwerk van die geskakelde party sit R1,25 per minuut in die sak en die bellende party se netwerk móét nog hulle koste en winse bó dit verhaal. Dié besonder hoë interkonneksietarief is bepaal deur onderlinge ooreenkoms tussen Vodacom en MTN sowat 10 jaar gelede, net voor die toetrede van Cell C tot die mark. In wese is dit 'n uiters onmededingende situasie omdat nuwe toetreders deur dié prysvasstelling – die meeste geskakelde partye is immers op die gevestigde netwerke – verhoed word om op prys mee te ding. Suid-Afrika het dan ook van die wêreld se hoogste beltariewe.

NJ 'Sê-Wie?' van den Berg, DABovermelde komitee, waar welige baarde by sowel die voorsitter as die DA se skaduminister (het iemand hulle vertel ons het nie meer die Westminster-selsel nie?) spruit, het aangekondig dat hulle teen 1 November 'n verlaagde tarief verwag. Alhoewel feitlik almal dít sou verwelkom, hoort die ekonomie nie uit parlementêre komitees bestuur te word nie. Die toepaslike owerheid is die Mededingingskommissie of OKOSA (ICASA). Die einste komitee sou egter reeds in 2005 kennis kon neem van 'n voorlegging aan hulle deur (toe) professor Alison Gillwald van Wits, waarin sy waarsku dat onder nuwe wetgewing
“with the retention of certain regulatory and licensing powers by the Ministry, together with some of the necessary provisions of the ICASA Amendment Bill not being in place, the constitutionally required independence required for the broadcasting regulator in Section 192 of the Constitution of the Republic of South Africa is probably not met.”
Op daardie tydstip was die openbare mening nie soseer op dié kwessie toegespits nie, en kon die PPKK die professor se goeie advies maar rustig diep liaseer. In Namibië het hulle reeds na goeie advies geluister en aangekondig dat die interkonneksietariewe stelselmatig sal daal tot R0,30 per minuut teen Januarie 2011.


Bronne


Selgroepe moet hul tariewe sonlig gee
www.sake24.com/...
High Interconnect rates: The PPCC and ICASA Independence
http://mybroadband.co.za/news/Cellular/9668.html
Parliament attacks South African telecom operators
http://www.itnewsafrica.com/?p=3146
Submission to the Parliamentary Portfolio Committee on Communications on the 2005 Convergence Bill (Notice 27294 of 2005) by the Wits LINK Centre
http://link.wits.ac.za/papers/conv-bill.pdf
Telecom laat sak belpryse
http://www.republikein.com.na/...

Geen opmerkings nie: