2018-07-16

Werk Google Translate regtig deur Engels?

Ek verstaan dat Google Translate van 'n taal A na taal B vertaal deur

  • eers van A na Engels te vertaal en dan 
  • van Engels na taal B. 

Derhalwe, deels, die dikwels vreemde uitkomste.

Verlede week het ek egter gekyk na die relatief soortgelyke woorde vir vuurhoutjie in Afrikaans, in Duits (Streichholz) en in Hongaars (gyufa). Laasgenoemde is amper 'n direkte vertaling van die Afrikaans. Ek het onraad begin merk toe ek verder die Sjinees wou nagaan en het opgelet dat Google Translate as volg vertaal.

vuurhoutjie比賽
Streichholz比賽
gyufa火柴

Dit wil sê, uit Afrikaans en Duits kry ons "wedstryd" in Sjinees (via die Engelse "match" natuurlik) maar uit Hongaars wel die regte woord en/of skriftekens. Waarom dít is, kan ek nie verklaar nie.

1 opmerking:

Anoniem het gesê...

Al die onderstaande is volgens my verstaan van sake:

'n Paar jaar gelede was die antwoord 'n redelik eenvoudige "Ja, alles werk deur Engels" (met slegs enkele kwalifikasies). 'n Paar jaar gelede het hulle wel 'n nuwe benadering geïmplimenteer — neurale masjienvertaling. Dit word opgelei met effens ander data en het aansienlik hoër stelselvereistes. Gevolglik is dit aanvanklik slegs vir enkele tale gebruik.

In hierdie nuwe benadering is daar 'n manier om direk tussen 'n klomp taalpare te vertaal sonder om deur 'n spiltaal soos Engels te gaan, maar ek neem aan daar is beperkings in watter tale saam in bondels opgelei word sodat hulle só gebruik kan word. My indruk is dat sommige van my onlangse Google-vertalings na Afrikaans deur die neurale masjienvertaling gegenereer is, dus raai ek dat Afrikaans in ten minste sommige gevalle direk na ander tale kan vertaal word.

Máár, 'n dominante taal sal steeds 'n invloed hê, omdat sy verstaan van die wêreld 'n groter invloed op die neurale netwerke sal hê. Dus raai ek kan vuurhoutjie dalk self in direkte neurale vertaling só uitkom — nogal jammer.