2009-06-21

Broken/Stukkend 2 : DSTV se rekeninge-afdeling

DSTV is die Telkom van betaaltelevisie - 'n monopolie wat deur die Suid-Afrikaanse owerhede (in beide gevale, OKOSA/ICASA) in 'n skoon kombers toegedraai en warm gehou word terwyl die verbruiker steun en kreun. Ek het al meer as tien jaar lank aaneenlopend 'n rekening by DSTV/Multichoice maar ontvang vanoggend 'n kort SMS waarin ek ingelig word dat my rekening agterstallig is en ek 'n R50-herkonneksiefooi moet oorbetaal. Ná tien minute se versigtige rondblaai deur my bankstate, kom ek agter dat daar vroeg in Mei laas 'n betaling af is. Gaaf, dan nou maar na DSTV se webwerf toe om hulle telefoonnommer te kry. Op dié werf lees dat kredietkaartbetalings sedert Mei nie meer aanvaar word nie.



'n Verdere tien of vyftien minute se aanhou op die inbellyn, en ek praat met 'n simpatieke dame wat my vermoede bevestig en aanbied om die diens onmiddelik (daarmee ís hulle goed) te heraktiveer en my bankrekeningbesonderhede te neem vir 'n maandelikse debiet. Sy verstaan my probleem en bevestig dat DSTV wel my eksakte e-posbesonderhede en selfoonnommer het. Hulle beweer dat ek 'n brief per pos in dié verband moes ontvang het. Waarom nie maar ook 'n e-pos of 'n SMS om te waarsku nie? Het hulle mooi gedink en besluit die R50-herkonneksiefooi is meer werd as die intekenaars wat hulle gaan verloor?

Was DSTV nie die enigste opsie in SA vir TV anders as die grusame SAUK s'n nie, het ek sonder twyfel die DSTV gekanselleer. Trouens, dit word net deur my ouers gebruik en ons DSTV het ek lankal kanselleer omdat hulle so duur en hopeloos is. Hulle het hier weer die eerste reël van kleinhandel verbreek - om te weier om 'n klant se geld die aanvaar indien dié klant gereed staan om die geld te gee. Ek hoop daar is baie mense wat hulle DSTV-intekening 'n stille dood laat sterf. Ek is taamlik seker dat DSTV, soos Virgin Active, nie maandelikse state (per e-pos) stuur nie, want hulle wil nie slapende honde wakkermaak nie. Is dit nie tyd dat die bemoeisieke owerhede diensverskaffers dwing om, indien hulle meer as - sê maar - R100 van 'n verbruiker te verhaal, die verbruiker die reg gee om 'n maandelikse staat (per e-pos of MMS) te eis, nie?

Geen opmerkings nie: