2007-12-29

Die volstruisverestoffer in die geskiedenis

Met die uitvinding van die verestoffer, gemaak van kalkoenvere, het die Amerikaanse Susan Hibbard 'n deurbraak gemaak. Haar storie word egter verskeie plekke op die Internet (o.a. die Amerikaanse openbare diens-uitsaaier, PBS, se webbladsye) onjuis aangehaal. Dit word vertel dat haar bose eggenoot die patent by haar wou wegneem en in sy naam registreer en dat sy in die hof sou moes veg om dit te behou. Dit is weliswaar so dat eiendomsreg binne die huwelik 'n netelike probleem was in die patentreg (soos elders in die personereg) maar die geval Susan Hibbard was meer ingewikkeld.

Volgens 'n artikel in The American Journal of Legal History het Susan se man, George Hibbard, in 1874 'n patent in sy naam registreer vir die verestoffer. Kort daarnee het ene GM Richmond aansoek gedoen vir 'n patent vir dieselfde item. By 'n verhoor om die twee aansprake te beoordeel het dit aan die lig gekom dat die uitvindsel eintlik Susan s'n was. Die VS-patentekantoor het die dispuut toe verander na een tussen Susan Hibbard en Richmond en die patent aan Susan toegestaan. Hoewel die storie van Hibbard se verestoffer wel wys dat mans soms in die 19e eeu gerieflikheidshalwe hul eggenote se uitvindsels patenteer het (miskien soos sommige amper-insolvente individue vandag hul huise in hul eggenoot se naam registreer), illustreer dit eerder 'n verligte houding aan die owerhede se kant!

Volgens die Wikipedia is die volstruisverestoffer in 1903 in Johannesburg uitgevind deur ene Harry S. Beckner. Die Beckner Feather Duster Company se webbladsye maak egter 'n minder omvattende aanspraak:

original South African Ostrich Feather Dusters were invented in Johannesburg, South Africa by missionary, broom factory manager, Harry S. Beckner in 1903...

Let op die hoofletters en die kwalifikasie "South African"! In iedere geval, Beckner is na die VSA saam met sy broer George en het dié maatskappy in 1913 op die been gebring. Vandag word die maatskappy besit deur George se kleindogter Margaret Fish en haar man en word dié verestoffers vervaardig in McDonald, Tennessee, van vere wat uit SA ingevoer word.

Hoewel dié webjoernaalskrywers een van die laaste persone sou wees om die ekonomie deur 'n nasionalistiese bril te sien, kom die vraag tog by 'n mens op: watter hoop het, byvoorbeeld, die SA-regering se planne om verydeling (die vervaardiging van juwele e.d.m.) in die mineraal- en edelmetaalsektore aan te wakker indien ons, na meer as 100 jaar, nog die vere van ons volstruise Amerika toe stuur om daar aan 'n stok vasgemaak te word vir 'n stoffer? Dié tipe denke oor die verestoffer ignoreer natuurlik die subtiele ekonomiese kragte (die "onsigbare hand", indien u wil) wat dinge gemaak het soos dit is. Ministers ignoreer dié kragte ook besonder graag.

Bronne: http://www.pbs.org/wgbh/amex/telephone/sfeature/index.html http://en.wikipedia.org/wiki/Ostrich_feather_dusters http://findarticles.com/p/articles/mi_gx5205/is_1999/ai_n19125056 http://www.becknerfeather.com/

Deborah J. Merritt . Hypatia in the Patent Office: Women Inventors and the Law, 1865-1900. The American Journal of Legal History, Vol. 35, No. 3. (Jul., 1991), pp. 235-306.

Geen opmerkings nie: