2007-12-15

Vodacom sny ten volle betaalde rekeninghouer af

Vodacom sal doodluiters iemand, wie se rekening ten volle betaal is, se diens opskort - selfs al het die persoon 'n dekade se goeie betalingsgeskiedenis (van seker R100 000,00 of méér). Dít is my storie.

Donderdagoggend sit ek in die verleentheid dat my selfoon nie die kompleks se hek kan oopmaak nie want "your service has been suspended". Ek is reeds meer as 10 jaar lank 'n Vodacom-kontrakgebruiker en het in Oktober 'n datadiens (met 3G/HSDPA-modem) by my kontrak gevoeg. Om een-of-ander rede het ek tot onlangs geen faktuur vir dié datadiens ontvang nie. Daar was dan Maandag 'n SMS van Vodacom waarin ek gewaarsku is dat my rekening met iets oor die R200,00 agterstallig is. Dieselfde dag nog gaan ek op Vodacom4me, laai 'n staat af en betaal die volle balans wat aan die einde van Desember betaalbaar is op EasyPay. Dit was meer as R1000,00 waarvoor ek nog geen faktuur ontvang het nie en wat ek dus vooruit betaal het.

Doodtevrede gaan ek aan met die week - tot die hekinsident op 'n baie besige Donderdag. Die diensopskorting behels, terloops, ook dat die diensverskaffer (111) nie geskakel kan word nie en derhalwe moes ek laat dié middag by die blink nuwe Vodacom-dienssentrum by Menlyn instap. Die - baie vriendelike - man daar aan diens het my verduidelik dat EasyPay-betalings drie dae neem om op die Vodacom-stelsel te registreer en my diens herstel. Hy het natuurlik begrip gehad vir my ontsteltenis. Die volgende sake het my spesifiek opgeval aan dié proses.
  • Op Vodacom se stelsel word ek as highly-valued customer (in rooi) aangedui. Sou 'n mens nie verwag dat 'n highly-valued customer één oproep werd is voor s/hy diens opgeskort word nie?
  • In die afgelope 5 jaar het ek meer as R40 000,00 aan Vodacom oorbetaal met EasyPay. Dít is die prys van 'n goeierige tweedehandse motor, maar Vodacom (hulle het my nommer!) kan nie soveel doen as om te skakel en te hoor of ek leef nie.
  • Die werknemer by Menlyn het dit baie moeilik gevind om my EasyPay-betalingsbewys uit te druk (wat op 'n manier nodig skyn te gewees het). Hy het o.a. probeer om 'n skermbeeld (Engels: screenshot) te neem en die kopieer-en-plak in 'n Word-dokument in en uit die Word-dokument probeer druk. Is dít die tipiese toestand van Vodacom se kliëntediens-rekenaarpunte? Is die uitdruk van 'n webbladsy iets waarmee 'n mens tegniese probleme hoort te hê?
  • Is daar in die 21ste eeu nie 'n manier hoe betalings dalk in minder as drie dae kan registreer kan word nie?
  • Dit het gelyk asof die uitvoer van roetine-take 'n verbasende hoeveelheid gebruik van die Start... Run en intik van 'n DOS-bevel (hulle gebruik Window$) behels het. Gits.
Ná dese is dit seker nie moeilik om te verstaan dat ek die baie ernstig oorweeg om my selfoonnommer na MTN of VirginMobile te neem, nie. Gelukkig het my kontrak op die stemnommer reeds in Oktober verval. Waarom het Vodacom nog nie dié highly-valued customer geskakel om te hoor of ek nie belangstel in 'n nuwe selfoon en 'n kontrakhernuwing nie?

Geen opmerkings nie: