2007-12-19

Jou wagwoord en Oliver Cromwell

Een van die burgerregte wat gevestig is tydens die 17e-eeuse bewind van die Oliver Cromwell in Engeland, is (aldus Wikipedia) die reg om mensself te weerhou van self-inkriminasie tydens 'n kriminele verhoor. Dié reg is baie belangrik omdat dit die vergryp van gedwonge bekentenisse, dikwels deur marteling, bekamp het. Vandag is dié reg veral bekend uit Amerikaanse TV-reekse en films, waar die uitoefening daarvan in die spesifieke instansie waar 'n mens weier om 'n vraag te beantwoord, bekend staan as "taking the Fifth". Hierdie is die verwysing na die vyfde amendement van die grondwet van die VSA, waar die reg verwoord word m.b.t. kriminele vervolgings.

Pas hierdie week het 'n Amerikaanse federale regter in die deelstaat Vermont beslis dat 'n man wat daarvan aangekla word dat hy kinder-animasiepornografie (uiters smaakloos, maar is dít 'n misdaad?) oor die Kanadese grens op sy draagbare rekenaar die VSA sou ingebring het, op gronde van die "Fifth" kan weier om die kriptografiese sleutel (sê maar: wagwoord) wat nodig is om sy harde skyf te ontsyfer, te verskaf. Doeanebeamptes het blykbaar wel inkriminerende materiaal op dié rekenaar gesien maar het nou die sleutel nodig om weer toegang tot die geënkripteerde skyf te kry. Die brandende (indien daar so iets is) regskwessie is of 'n wagwoord (of sleutel) 'n vorm van spraak of verbale getuienis is, en of dit eerder ooreenstem met 'n kas-sleutel of die kode vir 'n kluis. Blykbaar kan 'n mens gedwing word om 'n sleutel of 'n kluiskode te oorhanding indien dít nodig is om getuienis van ernstige belang te bekom en my gevoel is dat daar min verskil tussen 'n kluis- en 'n kriptografiese sleutel is. 'n Mens sien hier eintlik dat die reg wat 'n teenstrydigheid konfronteer wat spruit uit 'n wiskundige innovering - sterk enkripsie.

Lesers wil dalk in gedagte hou dat onder SA se nuwe Wet op Seksuele Misdrywe dit 'n kriminele oortreding maak vir mense jonger as 16 om te soen (om nie te praat van wat nóg in die agterste ry by Sterland mag aangegaan het nie). Hou dus maar stil wat agter die fietsloods gebeur het, hoop dat die staatsaanklaer nie op jóú dagboek toeslaan nie, en vertrou op nulla poena.

Geen opmerkings nie: