2007-09-13

Minister knip draad

Diegene wat hoop op 'n spoedige einde aan SA se peperduur Internet- en telefoniepryse is hierdie week 'n gevoelige slag toegedien. Die Eassy-konsortium (waarvan Neotel, Telkom en MTN saam 27% besit en wat ook deur die Wêreldbank befonds word) staan gereed om 'n kabel wat SA en die ooskus van Afrika, Europa en Asië sal verbind, by Mtunzini aan wal te bring. Die Ministerie (of, is dit, Misterie?) van Kommunikasie onder Ivy Matsepe-Casaburri, bekend vir haar uitspraak
I don't want a sector to be monopolised by people who do not look like me

het aangekondig dat meerderheid plaaslike besit vereis sal word van alle ondernemings wat kabels na SA wil lê. Of sy regtig die bevoegdheid het om dié vereiste te bepaal al dan nie, die bedoeling van die regering is duidelik: vreemdelingevrees en kleinlike patriotisme (of is dit rassisme?) is belangriker as ontwikkeling. Intussen plaas die regering hul hoop op die sogenaamde Kigali-protokol, 'n NEPAD-inisiatief om breëband-Internet in Afrika te bevorder en 'n werkswinkel hieroor het amper begin. Ek kan net voorstel dat Suid-Afrikaanse ministers ook hulle Duitse motors deur 'n NEPAD-komitee laat ontwerp en aankoop.