2013-01-06

Invlug-Internet op Emirates se A380

My perfekte somervakansie is verlede week afgerond deur 'n vlug op die boonste dek van 'n Emirates A380 vanaf Hong Kong na Doebai. Ek was heel gretig om die Internet-fasiliteit tydens die vlug te gebruik maar die WiFi-netwerk het 'n mens na 'n betaalbladsy herlei. Sover geen probleem, maar die tarief van $7,50 vir 5 megagreep het my laat terugdeins. Ek het later gelees dat dié diens, soos die aanboord-selfoonnetwerk, verskaf word deur middel van 'n enkele satellietverbinding en dit is natuurlik verstaanbaar nie goedkoop nie hoewel ek dink dit sou gaaf wees indien Emirates byvoorbeeld 'n sekere hoeveelheid data gratis per passasier sou verskaf (veral vir dié wat bo sit)! Nietemin, met Vodacom sou dieselfde hoeveelheid data op 'n buitelandse netwerk 'n mens R640,00 [sic] kos en ek verstaan dat die Emirates-diens byvoorbeeld beeldmateriaal saampers om die dataverbruik te verminder. Dit is seker nie hopeloos onredelik om vir $7,50 per (lang) vlug 'n WhatsApp-verbinding op die selfoon te hê nie. Ek sou graag weet hoeveel van die beskikbare kapasiteit van die satelliet-verbinding van vliegtuig na grond in praktyk deur Emirates-passasiers gebruik word.