2015-10-04

Die soms lastige onbepaalde lidwoord in Afrikaans en Unicode

Sedert woordverwerkers soos MS-Word begin het met sogenaamde outokorreksie van aanhalingstekens (as "smart quotes"), sukkel ons baie met die Afrikaanse onbepaalde lidwoord [’n] wat sommer net die lelike en lastige [‘n] word. Verskeie platforms (soos Facebook) het in die laaste paar jaar oorgeslaan na die spesiale Unicode-enkele karakter U+0149 ("LATIN SMALL LETTER N PRECEDED BY APOSTROPHE") om dié probleem, vermoedelik, te vermy. Dít stel die hele lidwoord as één karakter voor. 

Unicode is 'n stelsel wat die meeste van die wêreld se skryfstelsels kan behartig maar die probleem met hierdie benadering sien ons vanoggend in Rapport (soos hiernaas). Die webblaaier (Safari op OSX) het nie die ietwat eksotiese U+0149 in die lettertipe wat aangewys word nie en vervang dit met U+0149 uit 'n ander lettertipe en dit lyk nogal lelik! Sover ek weet is Afrikaans die enigste taal met 'n enkelkarakter-lidwoord in Unicode en dít het amper per ongeluk gebeur. Die relatief algemene gebruik daarvan is nogal verrassend en vermaaklik.