2009-04-25

RICA reg om selfoongebruikers te byt

Suid-Afrika se Wysigingswetsontwerp op die wet op die reëling van onderskepping van kommunikasies en verstrekking van kommunikasie-verwante inligting (RICA, The Regulation of Interception of Communications and Provision of Communication-Related Information Amendment Bill) gaan stellig die lewe vir selfoondiensverskaffers en -gebruikers moeilik maak. Dié wetgewing vereis dat verskaffers van telekommunikasiedienste nie net die ID-nommer en adres moet aanteken van gebruikers nie maar diegene ook moet identifiseer in 'n aangesig-tot-aangesig ontmoeting. Die finale datum vir dié proses (wat natuurlik ook van toepassing sal wees op die gebruiker van voorafbetaalde SIM-kaarte, wat tans nog vir so min as R0,99 en sonder identifikasie te koop is) word, volgens berigte, binnekort aangekondig.

Nie net sal die selfoondiensverskaffers hulle 30m of so voorafbetaalde kliënte deur dié proses moet help nie, maar gebruikers sal ook die verlies, diefstal of oordrag aan 'n ander persoon van 'n SIM-kaart moet aanmeld. By verlies of diefstal sal die polisie betrokke moet wees. Enige kans dat iets kan skeefloop?

Bronne

ITWeb: Mobile operators share RICA jitters http://www.itweb.co.za/sections/telecoms/2009/0904171038.asp?O=FPTOP&S=Legal%20View&A=LEG [toegang op 2009-04-25]