2015-02-07

Eskom-kragmageddon baie naby?

Dis maklik om te verstaan dat beurtkrag net van 'n breukdeel van die totale kragaanvraag kan ontslae raak. Ons doen immers steeds ons wasgoed, kook en verhit water, verkoel en vries ons kos, sny die gras en maak die swembad skoon, net op ander tye. Beurtkrag (gesien oor 'n hele dag, byvoorbeeld) verwyder net die las van daardie kragverbruik wat nie verskuif kan word na 'n ander tyd toe nie. Daar is dus 'n perk op die krag wat Eskom uit die vergelyking kan haal met onderbrekings. Wanneer dít die dag te min is, kan ons ineenstorting van elektrisiteitsvoorsiening soos ons dit geken het, verwag.

Dink só daaraan, van die totale aanvrag van A per dag, kan 'n breukdeel p deur beurtkrag gespaar word. Die maksimale besparing per dag is dan pA (p vermenigvuldig met A). Gestel Eskom skakel deurgaans 'n breukdeel x van die netwerk af. Per dag word dan xpA gespaar deur beurtkrag. Indien die totale opwekkingskapasiteit B (per dag) is dan kan ons oorleef mits

B  ≥ A - xpA

met 'n x tussen 0 en 1. Só 'n x bestaan mits die ongelykheid

A - pA ≤ B

bevredig word. Wanneer B so klein word dat dié ongelykheid nie meer geldig is nie, gaan beurtkrag nie meer help nie. Dan moet 'n hele gedeelte van die land (of die hele land) permanent afgeskakel word. Indien A groter word en/of B kleiner, is daar geen manier om dit te vermy nie.

Gegee die probleme met B is al hoop om p groter te maak (nie in die kort termyn nie, dink ek!) of om A kleiner te maak. Daarvoor sal 'n drastiese verhoging in prys voldoende wees. Myns insiens, hoe gouer hoe beter.

Vrywaring: hierdie is nie 'n ingenieursmodel nie en hoort nie aldus geïnterpreteer te word nie. Die vereenvoudigings het na my mening geen beduidende uitwerking nie.