2016-08-11

Enkripsie is net wiskunde, behalwe dalk in La France

Volgens Frankryk se minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, is enkripsie 'n „sentrale” probleem in die geveg teen terrorisme. Gewilde kletstoepassings soos Telegram wat privaatgesprekke moontlik maak, word oënskynlik deur terroriste gebruik (net soos treine, skoene en ander normale dienste en voorwerpe) en maak onderskepping deur die owerhede onmoontlik. Ongelukkig vir die heer Cazeneuve (hiernaas afgebeeld) is enkripsie niks anders as 'n wiskundige algoritme nie en enige twee partye kan in beginsel 'n geënkripteerde verbinding bewerkstellig, ook sonder 'n spesifieke tussenganger soos Telegram. Trouens, Telegram is niks anders nie as 'n algoritme wat op beide se toestelle (toevallig, selfone) loop en die Internet gebruik om data oor te dra. Hy kan dus (i) die Internet; (ii) rekenaarprogramme of (iii) die basiese universiteitsvlak-wiskunde verban. Dan sal daar ook sommer geen GMail of Internet-bankdiens (of moderne Frankryk) wees nie. Blykbaar gaan dit minstens 'n spitsberaad met sy Duitse ampsgenoot verg om dié les te leer...

Bron: Bernard Cazeneuve veut une action internationale contre le chiffrement http://www.macg.co/ailleurs/2016/08/bernard-cazeneuve-veut-une-action-internationale-contre-le-chiffrement-95199