2006-06-16

Nommer, asseblief nie!

MWeb het 'n goeie nuwe produk, Broadband Talk, vir die Suid-Afrikaanse mark bekendgestel. Ongelukkig is daar net één probleem met hulle Internet-telefoondiens - 'n mens sal uit alle lande dié 08770-nommer kan skakel van 'n gewone foon af, behalwe van SA.

Die rede hiervoor? OKOSA, onder wie se take tel „protecting consumers within the communications environment” wat hulle duidelik so goed doen dat mense nou amper glad nie meer kan bel nie...

Onthou dat dit OKOSA is wat die 08770-nommerreeks aan MWeb toegeken het maar blykbaar nie die tande het om die ander telekommunikasie-operateurs te dwing om oproepe na dié nommerreeks deur te skakel nie. Wat volgende? Bloemfontein word afgesny omdat Telkom besluit het hulle skakel nie meer oproepe daarheen deur nie? Verbruikers kan met reg wonder watse soort diens hulle van Helkom, Wou-daar-kom, en Selsie ontvang indien dié nie bereid is om hul oproepe deur te skakel na openbare telefoonnetwerknommers wat wettig in SA toegeken is, nie.

Hoe omseil ons die rotsrif genaamd OKASA (lees hier hoe dit dáár gaan)? Eintlik maklik. Al die voordele wat MWeb se diens bied kan in die VSA aangekoop word - teen laer koste en met 'n telefoonnommer (byvoorbeeld in Amerika) wat uit SA gebel kan word. Die enigste voordeel wat MWeb se plan het, is 'n plaaslike nommer - maar dit is 'n plaaslike nommer wat nie gebel kan word nie.

Geen opmerkings nie: