2006-11-08

Amerika stem, maar hoe?

Sien ook E-voting stories rounded up.

As kind het ek gedink dat verwysings na "pulling the lever" in Amerikaanse verkiesings net beeldspraak is. Ek moes in die VSA gaan woon om te leer dat Amerikaners reeds meer as 100 jaar lank masjiene in die stemhokkie gebruik. Volgens A Brief Illustrated History of Voting deur D.W. Jones is die eerste Myers Automatic Booth in 1892 (sic) in die deelstaat New York gebruik in 'n verkiesing. Dié artikel bevat terloops ook baie interessante foto's van stemmasjienerie. In die presidensiële verkiesings van 1996 het byvoorbeeld sowat 40% van kiesers in die VSA van ponskaartmasjiene (rekenaarwetenskapstudente uit die baie vroeë 1980's sal dit nog onthou) gebruik te maak om hul stem te registreer. Een van die voordele van die ponskaarte is dat daar 'n handmatig naspeurbare spoor is van die kieser se intensie. Dít het juis tot baie omstredenheid gelei (byvoorbeeld die sogenaamde hanging chad) maar 'n mens moet besef dat enige stelsel wat geen twis oplewer nie, ook nie 'n naspeuring of verifikasie van die kieser se intensie kan akkommodeer nie.

In die Amerikaanse verkiesings van gister hoef prakties geen stem met die hand getel te word nie en dít is waarom ons vandag (wat in dele van Amerika eintlik nog gister is) reeds die uitslag weet. Vir 'n Suid-Afrikaner sou 'n suiwer meganiese of elektroniese kiesstelsel egter baie vreemd voorkom, maar die prys wat ons vir ons outydse korrektheid betaal is dat ons verkiesingsuitslae baie stadig uitkom. Indië en Brasilië het byvoorbeeld reeds volledig elektroniese kiesstelsels in plek. Dit is seker in my klassebelang om 'n stelsel te ondersteun waar 'n mens minstens 15 jaar (en 'n halfmiljoen rand) se opvoeding nodig het om te kan verifieer of die stelsel regverdig is al dan nie, maar is die punt van die demokrasie nie juis om die hele samelewing (insluitend, in SA, die tronkvoëls) te betrek by 'n burgerlike oefening in gelykheid nie? Sou dit ook werk indien ons rekenaars vir ons stem en, sê maar, die een wie se rekenaar die moeilikste wiskundige probleem binne 24 uur kan oplos se stem die meeste tel? Ek glo nie.

Geen opmerkings nie: