2007-04-06

Naspers as tweede reserwebank van Sjina

Tegnologiewaarnemers hou al geruime tyd die aandeelhouding van Naspers in Tencent QQ dop. QQ is die mees gewilde kitsboodskap-stelsel in Asië (Engels: instant messaging). Die Wall Street Journal berig verlede week dat QQ se virtuele geldeenheid, die Q-munt waarmee oorspronklik net dienste in virtuele objekte in die QQ-wêreld gekoop kon word, nou in die regte wêreld gebruik word. Q-munte kan teen 'n wisselkoers van een-vir-een met Sjinese yuan gekoop word by QQ of op die vrye mark teen 'n wisselkoers wat tussen 0,5 en 1,0 yuan per Q-munt wissel. Sedert die Sjinese owerhede hul kommer uitgespreek het oor die gebruik van Q-munte in die regte wêreld en die moontlike ontstaan van 'n parallelle geldstelsel in Sjina, het die wisselkoers van die Q-munt gestyg. Regerings moet besef dat aangesien bestaande amptelike geld sigself nie besonder goed leen tot anonieme kontanttipe-transaksies op die Internet nie, 'n mens skaars verbaas kan wees indien alternatiewe betaalmiddels ontwikkel word. Dit is nie soveel anders as die gebruik van sigarette as betaalmiddel (eintlik: ruilmiddel) in die plek van kontant in die na-oorlogse Duitsland nie.

Geen opmerkings nie: