2007-10-14

Altbeker se boek oor misdaad in SA

Ek het sopas A Country At War With Itself: South Africa’s Crisis of Crime van Antony Altbeker klaar gelees. Dit is 'n bietjie van die onderwerp af vir dié webjoernaal maar ek wil dit sterk aanbeveel vir enigiemand wat in SA woon of belangstel. Altbeker raak 'n paar onderwerpe aan wat met tegnologie te doen het:

  • hoe eskalerende verdediging lei tot eskaleerde geweld, byvoorbeeld motordiefstal wat moeilik gemaak word deur tegnologie lei tot transito-rooftogte en huisaanvalle;
  • hoe deur speurtak van die polisie afgebreek is na 1994 en die klem op klinkgoed-voelgoed strategieë soos gemeenskapspolisiewerk geplaas is en hoe dít 'n strukturele hindernis is vir die gebruik van DNA-profiele en ander forensiese tegnieke wat kan help om meer suksesvolle vervolgings te bewerkstellig;
  • die rol van maklik vervoerbare produkte van hoë waarde (selfone, DVD-spelers, kontant) by misdaad, en nie net in SA nie; en
  • die noodwendige manipulasie van misdaadstatistieke, nie op 'n hoë vlak nie maar deur stasiebevelvoerders wat deur boontjietellers in Pretoria oor die vingers getik word indien daar te veel aangemelde misdade in 'n gebied is

Ek verskil 'n bietjie van Altbeker oor die positiewe aspekte van selfoon- en voertuigmonitering in die poging om, nie soseer misdaad te bekamp nie, maar meer misdadigers vas te trek, suksesvol te vervolg en (lank) op te sluit. Indien 50% van moordenaars aan hul slagoffers bekend is, waarom lei net 3% (volgens Altbeker) van aangemelde moorde tot suksesvolle vervolging? Sal dit regtig help om die land se dosyne van miljoene (gesteelde) selfone dag en nag te kan volg? Wat daarvan indien toegang tot die opsporingstelsel verkry word deur die kriminele elemente self?

Voorts noem hy in die boek dat SA se 25% van die bevolking wat sosiale toelae ontvang besonder hoog is, maar ek glo nie dit is so. In Australië, byvoorbeeld, volgens die Australian Institute of Health and Welfare is daar sowat 'n miljoen mense (5% van die bevolking) wat bystand ontvang vir ongeskiktheid alleen. Voeg daarby werkloosheidsbystand endiesmeer en ek kan maklik glo dat sowat 25% van die bevolking ook in Australië staatsbystand ontvang. Ek is ook onlangs informeel deur 'n Australiese ekonoom meegedeel dat dit rofweg klop. Dit is egter so dat in Australië die gemiddelde belastingbetaler dalk 'n baie beter kans staan in SA om eendag self (of deur 'n familielid) van staatsbystand gebruik te maak. Ons sosiale bystandstelsel is, sou ek sê, tog totaal disfunksioneel omdat diegene wat daarvoor betaal (belastingbetalers, lesers van dié webjoernaal ens.) geen vooruitsig het om ooit direk daaruit voordeel te trek nie. In ander lande is dit in 'n mindere mate ook só maar by ons is dit besonder opvallend.

Altbeker se boek is nie juis opbeurend nie maar dit sit die kwessies rondom misdaad, vir my, duidelik uiteen en verskaf 'n goeie raamwerk waarbinne 'n mens kan dink en redeneer. Dit is aktueel en goed geskryf.

Geen opmerkings nie: