2020-01-13

Vakansieleesstof, boek 5: Secondhand Time – The Last of the Soviets (Svetlana Alexievich)

Twyfelagtige leesstof vir 'n vakansie, het ek gevoel na 20 bladsye. Maar ek wou nie die boek in my bagasie hê nie en ek kon nie ophou lees nie. Alexievich is 'n letterkundige Nobel-pryswenner wat aan die hand van 'n hele paar dosyn vertellings (hoofsaaklike eerstehands) die geskiedenis van die Sowjetunie, sy verval, die harwarjare en die opkoms van die nuwe orde beskryf.

Daar is nie baie snaaks daarin nie, met die uitsondering van 'n paar juwele van die Russiese galgehumor. Sy is ook nie skaam om te beskryf wat vir haar en ander lekker was in die sosialistiese tyd nie, ook nie om weer te gee dat mense (jonk en oud eerder as middeljarig) 'n hunkering terug het na die Stalin-tyd nie. Eerstehandse vertellings van selfs sy slagoffers se heldeverering vir hom is treffend. Tog is dit nie net 'n boek oor politiek nie. Dit vertel ook van die alledaagse (soms mooi) en gewone menslike stories wat afspeel teen die agtergrond van die Sowjet-stelsel.

Die woord "salami" kom verbasend dikels in die boek voor – ek skat minstens op elke vyfde bladsy. Die ander kleinigheid wat my sal bybly is dat die Russiese weermag tot in die tweede dekade van die 21ste eeu "portjanki" (basies, voetdoeke) gedra het eerder as kouse.

Hierdie boek is vir die sterk leser wat 'n goed ontwikkelde belangstelling het in Rusland en die Sowjetunie. Of vir iemand wat nodig het om te hoor dit was elders erger. Baie erger. Ek leen 'n foto by die New York Times hiervoor (ietwat uitgeknip) omdat die outeur oulik en gaaf lyk, in teenstelling met haar onderwerp.

Geen opmerkings nie: