2007-09-13

Minister knip draad

Diegene wat hoop op 'n spoedige einde aan SA se peperduur Internet- en telefoniepryse is hierdie week 'n gevoelige slag toegedien. Die Eassy-konsortium (waarvan Neotel, Telkom en MTN saam 27% besit en wat ook deur die Wêreldbank befonds word) staan gereed om 'n kabel wat SA en die ooskus van Afrika, Europa en Asië sal verbind, by Mtunzini aan wal te bring. Die Ministerie (of, is dit, Misterie?) van Kommunikasie onder Ivy Matsepe-Casaburri, bekend vir haar uitspraak
I don't want a sector to be monopolised by people who do not look like me

het aangekondig dat meerderheid plaaslike besit vereis sal word van alle ondernemings wat kabels na SA wil lê. Of sy regtig die bevoegdheid het om dié vereiste te bepaal al dan nie, die bedoeling van die regering is duidelik: vreemdelingevrees en kleinlike patriotisme (of is dit rassisme?) is belangriker as ontwikkeling. Intussen plaas die regering hul hoop op die sogenaamde Kigali-protokol, 'n NEPAD-inisiatief om breëband-Internet in Afrika te bevorder en 'n werkswinkel hieroor het amper begin. Ek kan net voorstel dat Suid-Afrikaanse ministers ook hulle Duitse motors deur 'n NEPAD-komitee laat ontwerp en aankoop.

3 opmerkings:

Anoniem het gesê...

Ek het simpatie met die alemene idee dat 'n persentasie van eienaarskap van groot maatskappye in plaaslike hande moet wees. Hierdie soort sentiment bestaan ook in ryk lande - en ek praat nou baie algemeen - nie spesifiek van telekommunikasie nie.
In SA skep dit boonop geleenthede vir bemagtiging.

Die probleem met hierdie benadering wanneer dit by kabels kom, is dat goedkoop telekoms soveel ekonomiese geleenthede elders in die ekonomie sou kon skep, dat dit nie veel saak maak wie die kabels besit nie.

Petrus het gesê...
Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.
Petrus het gesê...

Ek het min simpatie met die idee dat groot maatskappye in plaaslike besit moet wees. Dit is natuurlik gewilde politiek - ook in ander lande - maar, soos jy uitwys, het die altyd 'n koste, byvoorbeeld die verlies aan geleenthede elders in die ekonomie. Een van die probleme met politiek is dat dit lyk asof sekere doelwitte gratis bereik kan word, m.a.w. die ware kostes word weggesteek of is onbekend. Indien ek 'n paar SA-vervaardigde skoene kies bo 'n paar ingevoerdes (wat ek dikwels doen) dan kan ek die prysverskil direk waarneem - en ek betaal self daarvoor. In die geval van die kabels, gaan die hele land betaal vir die regering se fantasie.

Lees gerus ook die verslag deur Chris Barron op http://mybroadband.co.za/news/Telecoms/1328.html waarin me Lyndall Shope-Mafole, DG by Dr Matsepe-Casaburri, dit duidelik stel dat sy eintlik nie spesifiek SA-maatskappye wil bevoordeel nie maar eerder maatskappye uit die res van Afrika (sic). Ek verstaan dít ook nie.