2009-11-19

Die onbepaalde lidwoord op Facebook (ʼn, UTF-16: 0x0149)

Die gewoonte van lomp woordverwerkers uit Redmond om die Afrikaanse onbepaalde lidwoord tot die foutiewe en lelike misbaksel ‘n te omvorm, is 'n hinderlike deel van 'n mens se alledaagse leeservaring. Op Nuus24.com kan 'n mens vanoggend sommer drie variante van die lidwoord ('n, ‘n asook ’n) heel naby aan mekaar sien.

Ou Afrikaanse tikmasjiene het blykbaar 'n aparte sleutel gehad vir die lidwoord en die moderne Unicode-standaard vir die voorstelling van karakters op rekenaars bevat dan ook 'n enkele simbool vir die Afrikaanse onbepaalde lidwoord, die ʼn. Laasgenoemde is 'n enkele karakter, soos die Griekse λ, en nie twee opeenvolgende karakters, soos die bogenoemde drie van News24, nie en het die UTF-16-kode 0x0149. Die gebruik van ʼn (0x0149) sou die misvormde lidwoord kon uitskakel en word, tot my matige verbasing, wel deur Facebook gebruik.

Die Kanadese veeltalige sleutelborduitleg ondersteun dan ook dié karakter deur dit as AltGr-N (die regterkantste Alt-sleutel word ingehou onderwyl N gedruk word) beskikbaar te maak. Die maklikste manier om die misvormde lidwoord uit te skakel, is egter om die woordverwerker se autokorrigeer-opsies heeltemal af te skakel. Indien dít te moeilik is vir mense wat in Afrikaans skryf, wat van die Kanadese sleutelborduitleg?


Verwysings

Using AutoCorrect http://wiki.services.openoffice.org/wiki/Documentation/OOoAuthors_User_Manual/Writer_Guide/Using_AutoCorrect (vir OpenOffice)
Turn on or off AutoCorrect options http://office.microsoft.com/en-us/word/hp051894301033.aspx (vir MS-Word)

2 opmerkings:

F Wolff het gesê...

Ja, hierdie is 'n probleem in 'n groot klomp Afrikaanse publikasies. Dit is nie net woordverwerkers nie, maar ook sekere websagteware soos WordPress wat modules het om die standaarde van "webtipografie" te verbeter, en dan só die lidwoord misvorm.

Die gebruik van die enkele karakter kom egter nie sonder probleme nie:

- Baie lettertipes het nie goeie ondersteuning daarvoor nie, en veral op klein groottes kan dit dalk leesbaarheid affekteer.

- Soek en indeksering kan definitief hierdeur geaffekteer word.

Ek raai dat hierdie eintlik as 'n ligatuur geïmplimenteer moet word, nie as 'n semantiese verskil op karaktervlak nie. Dink maar aan ligature soos "ff" fi", ens. waarvoor goeie skriftipes aparte variante het sodat dit mooi vertoon. Dit sal dus per lettertipe geïmplimenteer word wat die eerste bostaande probleem oplos. Omdat dit nie 'n aparte karakter is nie, sal soek en indeksering ook nie hierdeur geaffekteer word nie.

Hierdie is in my opinie geheel vergelykbaar met die Engelse "don't" teenoor "don’t". Ek glo almal tik (met reg) 'n gewone (reguit) apostroof, maar dit word dan in woordverwerkers en ander sagteware wat gemik is op goeie tipografie verander om met die krulapostroof te vertoon.

Petrus het gesê...

Dankie vir die deurdagte kommentaar én vir die nuutskepping (of herontdekte maar 0 treffers op Google in iedere geval) „krulapostroof”. Sover ek weet, is die ʼn inderdaad in die verlede as ligatuur hanteer in setwerk. Die voorstel van die Kanadese sleutelborduitleg en 0x0149 is natuurlik nie baie ernstig nie, o.a. omdat dié uitleg se ondersteuning vir Inuktitut heeltemal ontbreek.

Ek is self skuldig aan die gebruik van 'n ondeurdagte mengsel van tipografie-per-karakter (ek kan byvoorbeeld nie die punt binne my deftige aanhalingstekens plaas nie want die spasiëring is nie reg nie) en outydse ASCII-rekenaarteks. Miskien sou die sleutel wees om uitsluitlik LaTeX-bronkode te tik en laat die programmatuur dan daarmee doen wat dit wil!