2013-10-15

Meer privaatheid met twee webblaaiers

Ek is vroegaand dié week by 'n vriend se huis toe my Google-selfoon my daaraan herinner dat ek so vier minute nodig het om by my volgende afspraak uit te kom. Hoe weet Google, Facebook en ander so baie van ons en wil ons iets daaraan doen? Oor die selfoon kan ek nie veel sê nie maar ek glo dis daar 'n hopelose saak, soos Richard Stallman onlangs in 'n lesing by Wits verduidelik het. Op 'n gewone rekenaar het 'n mens egter 'n bietjie meer hoop. Die beste is om TOR te gebruik vir Internet-toegang maar in my ervaring is dit dikwels maar stadig.

'n Baie eenvoudiger manier om jouself 'n bietjie minder te laat naspoor is om eenvoudig twee verskillende webblaaiers (byvoorbeeld twee van Google Chrome, Opera, Firefox, Safari of Internet Explorer) te gebruik. Op die één, sê maar Google Chrome, gebruik 'n mens alles waarvoor jy moet aanteken, byvoorbeeld jou GMail en Facebook. Moet dan geen ander webbladsye in Google Chrome oopmaak nie! Wanneer jy dit sou doen, kan GMail en Facebook baie inligting oor jou bekom en die webbladsy wat jy besoek kan ook. Gebruik eerder byvoorbeeld Opera om ander webbladsye in oop te maak, insluitend jou bank. Jy sal sien dat daar dan geen +'e van Google of Facebook-boodskappe wat jou vertel wat jou vriende van hou meer in Opera gaan verskyn nie. Hierdie werk omdat webbladsye wat jy in Google Chrome oop het slegs inligting van en oor ander webbladsye in Google Chrome kan kry of uitruil maar nie daarbuite nie. Alles wat jy dan in Opera doen hoort dus nie direk deur Facebook of Google aan jou gekoppel te kan word nie.


2 opmerkings:

F Wolff het gesê...

Daar is nog 'n paar moontlikhede:

Daar is verskeie Firefox-byvoegings vir verbeterde privaatheid en sekuriteit.

Verskeie webblaaiers bied nou 'n manier om privaat te blaai. Hierdie verskaf tydelik 'n geïsoleerde ekwivalent van 'n skoon/nuwe webblaaier sonder dat dinge soos koekies heen of weer kan lek van/na die "hoofblaaier". As mens privaat blaai na 'n webwerf, lyk mens dus soos 'n nuwe besoeker i.t.v. koekies. Dit los egter nie die fingerafdrukprobleem op nie.

Firefox ondersteun veelvuldige profiele wat die selfde effek bied as afsonderlike blaaiers. Elke profiel het sy eie geïsoleerde stel koekies, kas, byvoegings en geskiedenis. Kyk na "firefox -help" vir die keuses -P en -ProfileManager. Mens kan bv. 'n kortpad skep vir 'n kopie van Firefox met die Google-profiel. Ander blaaiers bied dalk iets soortgelyk. Omdat mens dinge soos HTTP_ACCEPT en die byvoegings kan aanpas per profiel, bied dit selfs effense beskerming teen die gebruik van fingerafdrukke soos bó genoem.

Niks hiervan werk op die vlak waar verkeeranalise werk nie. Hier bied Tor sekerlik 'n verbetering, maar dit het meer te doen met afluistering as die agtervolging van die groot webmaatskappye.

Petrus het gesê...

Juistement, F! Die skoon blaaierbladsy is ook nuttig wanneer The Economist wil onthou dat 'n mens al te veel gratig artikels gelees het... Dankie vir die Firefox-wenk!