2009-06-04

SMS agter die stuur

Die koerant Rapport berig afgelope naweek oor die verminderde bestuursvermoë van diegene wat SMS in die kar. Volgens dié blad erken amper 20% van bestuurders dat hulle SMSe stuur op die pad. Ek doen dit soms self alhoewel ek dit natuurlik probeer vermy. Indien die selfoon lui terwyl ek bestuur, antwoord ek - as 'n reël - ook. Die rede is eenvoudig dat Suid-Afrika 'n gevaarlike plek is en 'n mens nie kan weet wanneer jy 'n noodoproep gaan ontvang nie. Ek twyfel of dít méér gevaarlik is as om te rook terwyl 'n mens bestuur.

Waarom SMS mense dan so baie uit die kar? Eerstens, vir dieselfde rede dat mense buite die kar so baie SMS - die koste van selfoonoproepe in SA is uitermate hoog. Tweedens, selfs al word/is dit onwettig om te SMS terwyl 'n mens bestuur, is dit 'n aktiwiteit wat baie maklike vir verkeerspolisie weggesteek kan word of onderbreek kan word indien 'n beampte verskyn. Die wetgewing wat die praat op selfone in die kar verbied, het dus 'n teenwerkende en onbedoelde effek - mense SMS nou meer agter die stuur. My ervaring dag-tot-dag in die verkeer het in iedere geval lankal gesuggereer dat selfoonpraat nie die grootse gevaarfaktor op die pad is nie...

In 'n ideale wêreld sal alle motors se klanktoestelle outomaties aan die bestuurder se selfoon koppel, soos 'n vriendin van my se oulike nuwe Mercedes (nee - sy is nie in die politiek nie!) doen. Maar ons is nie in Utopia nie en die meeste mense moet kies tussen 'n nuwe klankstelsel en nuwe bande. Ek hoop hulle kies die bande.

Bron(ne)

Studie oor foon in kar skok http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2524591,00.html [toegang op 2009-06-04]

Geen opmerkings nie: